len muller oog van die storm perkolate online

Mei 2017. Onderhoud deur Marelise Jacobs. Voorblad: Len Muller - Foto verskaf deur Starburst Promotions.


Die musiek video vir Len Muller se nuutste enkelsnit, Ek Glo, is onlangs bekend gestel en het reeds oor die drie duisend kykers op Youtube vermag. Hierdie video neem die gehoor op 'n getroude paartjie se lewenspad, gevul met genoeg deernis om die sielvolle lirieke van Muller te komplimenteer. Ek het onlangs met Len gesels om bietjie meer uit te vind oor sy musiek, die video en wat alles nog voor lê.


Len Muller

Ek Glo - Vanaf die album 'Oog Van Die Storm'



Vertel vir my van 'Ek Glo', wat het jou laat besluit om die liedjie te skryf?

Len: Ek dink ek het 'n seisoen begin beleef waar ek geloofstappe moes vat, 'n gevoel in my hart dat iewers moet jy uit die spreekwoordelike bootjie klim en op die water begin loop. Dit is baie connected aan die bybel storie van Jesus and Petrus en dit is eintlik so relevant vir ons vandag. Hierdie liedjie gaan nie net oor geloof nie, dit praat ook oor mense wat te bang is om verlief te raak of om in hulle self te glo maar vir my is dit meer 'n geestelike liedjie.


Wanneer jy met 'n liedjie begin, gaan sit jy in 'n studio en skryf of is dit net idees wat kom?

Len: Dit begin by my waar ek notas op my foon opneem. Ek skryf gedurig lirieke en gedagtes wat my raak. Temas soos armoede is vir my 'n baie hartseer saak in ons land en ek skryf baie daaroor. Wat dan verder gebeur, ek begin speel op die kitaar en op 'n stadium as ek daardie wysie kry vat ek die lirieke en sit dit saam met die musiek. Die finale fase is om die liedjie klaar te kry want ek sal vir ewig skryf as jy nie vir jouself 'n deadline gee nie. Louis Brittz het eenkeer vir my gesê al wat jy nodig het is 'n harde stoel en 'n deadline.


“...Louis Brittz het eenkeer vir my gesê al wat jy nodig het is 'n harde stoel en 'n deadline...” - Len Muller

Hierdie enkelsnit is deel van jou album Oog Van Die Storm, wat is die idee agter die naam?

Len: Ek is 'n natuur mens, ek het weggetrek van die see af en het myself gevind in hierdie storm wat ek sien as die stad. Ek mis die see, ek mis die bome en die oop velde en ek het begin voel ek is hier in die storm. Dan ook is daar 'n metaforiese kant tot die naam, die storm van die lewe. Die liedjie Ek Glo som die hele album basies op.


Vertel vir my meer van die getroude paartjie en die video van 'Ek Glo'?

Len: Dit is baie goeie vriende van my en ek was by hulle troue gewees. 'n Jaar later was hulle swanger en vriende van my het gesê watse mooi prentjie sal dit nie wees om hierdie twee mense se storie uit te beeld. Ek het besluit dit is briljant want die liedjie gaan juis oor daardie geloofstap van die huwelik, dit is 'n groot sprong. Dit is regte mense in die video en dit is waarvan ek hou, die egtheid daarvan, dit is egte musiek en 'n egte storie.


Jy het so ruk terug 'n baie mooi liedjie, Vir Die Een Wat Geval Het, saam met Joshua Na Die Reën opgeneem, gaan julle weer saamwerk?

Len: Weet jy ek sal dit love. Ek dink ons het 'n paar idees in gedagte maar ons is altwee so besig. As ek op toer is dan is hy by die huis maar daar gaan definitief 'n dag kom waar ons bietjie tyd gaan hê om saam te werk. Dit is baie lekker om saam met hom te skryf, dit kom so natuurlik en ons het ook dieselfde idees oor musiek.


Het julle saam die liedjie geskryf?

Len: Daar is 'n outjie met die naam Jattie de Beer. Hy is in 'n groep, Dou Voor Dag, saam met sy vrou en hulle is fantasties. Hy is 'n fantastiese skrywer, ons het bymekaar gekom en saam geskryf. Hy is regtig incredible en ek was baie bevoorreg om saam met hom te werk.


Wat lê vir jou voor in die nabye toekoms?

Len: Ek sien baie uit na Innibos, ek gaan definitief daar wees. Hierdie jaar is dit my derde keer in 'n ry en ek is so dankbaar dat hulle my nooi. Elke keer is dit so 'n lekker fees. Maar voor dan gaan ek eers my album vrystel so middel Junie se kant.