Nagligte bly lig in die donker perkolate online

Mei 2017. Onderhoud deur Marelise Jacobs. Voorblad: Nagligte - Foto verskaf deur Starburst Promotions.


Die Afrikaanse rockgroep Nagligte is terug met 'n nuwe enkelsnit getiteld 'Bly' waarvan die musiekvideo reeds vrygestel is. Die enkelsnit is deel van die groep se debuutalbum, Hoop in die donker, wat in mid-2015 uitgereik is. Hierdie album het heelwat sukses behaal en is onder andere vir twee Ghoemas benoem. Ek het onlangs met hoof sanger Jacobus 'Roof' Brink gesels oor hul nuutste enkelsnit en die storie agter die musiek video.


Nagligte

Bly - Vanaf hul album 'Lig In Die Donker'



Vertel my bietjie van julle nuutste enkelsnit 'Bly', ek neem aan dit is jou famile in die musiekvideo?

Jaco: Ja, dit is eintlik al drie van ons se families. Dit was nogal baie gepas vir hulle om in die video te wees. Die liedjie gaan oor ons verhoudings en ons families en die ondersteuning wat hulle vir ons gegee het. Ons sê altyd sonder ons familie se opofferings sou ons definitief nie kon gedoen het wat ons nou gedoen het nie. Die liedjie gaan oor daardie mense wat jou naastes is, dit is hulle wat jou lewe laat sin maak. Dit is hulle wat altyd daar is vir jou, die mense wat bly.


Het jou vrou en julle families geweet julle is besig met 'n liedjie wat so opgedra is aan hulle?

Jaco: Man, ons het nie rêrig vir hulle gesê uit die staan spoor nie maar hoe meer hulle na die liedjie geluister het, hoe meer kon hulle agterkom waaroor dit gaan. Dit is daardie gevoel van dit gaan nie altyd maklik by die huis nie, maar wanneer jy nie daar is nie kom jy agter wat jy mis en wat rêrig belangrik in die lewe is.


“...Ek voel musiek vervaardigers is die unsung heroes agter die hele bedryf...” - Jacobus 'Roof' Brink, Nagligte

Wat was julle families se opinie oor die liedjie en die video?

Jaco: Nee hulle was baie beïndruk gewees. Dit was nogal 'n emosionele oomblik toe hulle dit die eerste keer gesien het. Die video het ons kinders op 'n sekere snapshot van hul lewens vasgevang, daar is selfs van die honde wat in die video verskyn wat nie meer met ons is nie so dit was 'n nice snapshot om vas te vang toe die hele ding begin het.


Wie was die vervaardigers op die album en ook vir 'Bly'?

Jaco: Een ding wat ons rêrig wil noem is dat ons vir hulle baie krediet moet gee. Ek voel musiek vervaardigers is die unsung heroes agter die hele bedryf. Op hierdie album het ons saam gewerk met Fred den Hartog wat ook baie werk al gedoen het vir Die Heuwels Fantasties. Dan het ons ook saam gewerk met Francois de Klerk, hy is daar in Potch en het onder andere saam met Bouwer Bosch ook al gewerk. Fred het vir ons 'Bly' vervaardig maar elkeen hulle het min of meer helfte van die album vervaardig.


So gepraat van Die Heuwels Fantasties, ek sien julle ken mekaar al lank, waar het julle die eerste keer ontmoet?

Jaco: Dit kom eintlik van my kant af en tot 'n mate my vrou. Sy was saam met almal van hulle op skool terwyl ek en Pierre Greeff saam was in die koshuis op Stellenbosch. Ons het daardie tyd hier en daar paar dinge saam opgeneem en bietjie saam gejam maar daar het niks rêrig verder gebeur nie. Dit is toe deur daardie verhoudings wat ons ouens soos Fred ontmoet het en hulle het ons voorgestel aan Francois de Klerk.


Hoe voel dit om nou terug te kyk, was die idee altyd om 'n groot band te word?

Jaco: Ek dink elke laaitie wat in 'n garage band speel as hy in standerd sewe is en die meisies probeer beïndruk, droom van daardie tipe sukses. Vir ons het dit op 'n redelike laat stadium in ons lewens gekom, dit was 'n geval van ons wat besluit het as ons dit nie nou doen nie, gaan ons dit nooit doen nie. Ek dink nie dit was 'n ideale tyd om dit te doen nie. Ons kinders was almal klein gewees en my broer s se dogtertjie was maar twee weke oud toe die album vrygestel is en al die media toere gebeur het. So dit was nie die greatste tyd nie maar ons het almal gesit en besluit dit is 'n droom wat ons nog altyd gehad het en ons sal maar net iets moet doen om dit te laat gebeur. Dit is nooit te laat om jou drome na te jaag nie.