francois van coke perkolate online

September 2017. Onderhoud deur Marelise Jacobs. Fotos verskaf deur Francois van Coke.


Net so duskant vyftien jaar gelede was Francois van Coke nog 'n onbekende naam in Suid-Afrika. In 2003 het Polisiekar Afrikaanse Rock 'n nuwe identiteit gegee en 'n permanente stempel op die kultuur gedruk. Met Van Coke Kartel het hulle die mantel verder gedra voordat hy sy solo loopbaan aangepak het. 'Hierdie is die Lewe' is Francois se tweede solo album en die langverwagte Die Wêreld Is Mal toer begin uiteindelik hierdie maand. Ek het met Francois gesels oor sy album, hoe hy sy liedjies benader en sy hond Ringo se groot musiek video debuut.


Jy het in 'n Youtube video die agtergrond van jou nuutste album, Hierdie is die Lewe bespreek. Ek was baie geinteresseerd dat jy noem Beatles en Beach Boys was 'n groot invloed, vertel my bietjie meer daarvan?

Francois: Ek dink die Beatles en Beach Boys het al van die begin van my musiek loopbaan 'n invloed gehad, maar dit was nie rêrig iets waaraan ek gedink het nie. 'n Mens word groot met hulle, ons almal ken 'n Beach Boys song of 'n Beatles song, dis maar die liedjies wat oor die radio gespeel het toe ons kids was. Ek dink die laaste afgelope tyd, voordat ek 'Hierdie is die Lewe' gemaak het, het ek bietjie meer daarop begin fokus. Dit het definitief bygedra tot die melodic en harmonic keuses wat gemaak is op die album.

Ek dink veral die Beatles is nou 'n groot invloed, meer as ooit. Ek worry baie meer oor song writing as toe ek jonger was, en die Beatles was die beste song writers wat daar was. John Lennon en Paul McCartney is net die beste. Ek dink daardie invloed kom nou baie te vore in die nuwe album.


Wanneer jy sê jy bekommer jou nou meer oor die skryf van liedjies, bedoel jy in terme van boodskap of melodie?

Francois: Nee ek dink 'n bietjie van altwee. In Polisiekar het ek nie so 'n groot rol as song writer gehad nie want Hunter en Johnny het die meeste skryfwerk gedoen. Ek het hier en daar saam geskryf of 'n tune geskryf maar dit was nie my fokus nie. Vandat ek Van Coke Kartel doen het ek meer daarop begin fokus en ek sou sê veral die laaste sewe jaar, spesifiek op my nuwe solo album. Omdat dit nie so heavy musiek is nie, dink ek was dit vir my belangrik om songs te skryf wat ander mense ook wil hoor, nie net ek self nie.



Links / Bo: Francois van Coke en Matt Carstens. Regs / Onder: Ringo van Coke.

francois van coke matt carstens
francois van coke ringo dog
As solo kunstenaar het jy dan absolute sê oor waarheen jy wil gaan met jou liedjies?

Francois: Ja, ek dink dit is die groot verskil. Wanneer jy in 'n band speel, is jy getroud aan al die mense, hulle idees en hoe hulle die liedjies wil doen. Met my solo projek, alhoewel ek nogsteeds saam met 'n band speel, is die laaste besluit myne, en dit maak dit anders. Wanneer die kritiek kom, is dit ook net my kritiek. Dit is die groot verskil.


So gepraat van jou band, vertel my meer van Die Gevaar, hoe werk die dinamika?

Francois: Ek is die solo kunstenaar maar op die laaste album het Die Gevaar saam gespeel op elke song. Hulle speel al eintlik saam vandat ek shows begin doen het in 'n solo capacity, so hulle is al eintlik all the way deel van die projek. Op die album is dit Francois van Coke, maar in 'n live environment is dit Francois van Coke en Die Gevaar. Dink aan kunstenaars soos Bruce Springsteen and the E Street Band, of Bob Marley and The Wailers. Hulle is my band, en gaan nie sommer môre saam met iemand anders begin speel nie.



“...Met my solo projek, alhoewel ek nogsteeds saam met 'n band speel, is die laaste besluit myne, en dit maak dit anders. Wanneer die kritiek kom, is dit ook net my kritiek. Dit is die groot verskil...” - Francois van Coke


Jy het onlangs die VanCokeCollab kompetisie aangebied saam met Red Bull waar Matt Carstens gekies is as die wenner. Vertel my bietjie meer daaroor?

Francois: Matt is amazing. Hy is negentien jaar oud en het verlede jaar matriek geskryf. Hy is 'n ongelooflike song writer vir sy ouderdom. 'n Ongelooflike goeie sanger en kitaar speler. Hy het 'n baie natuurlike aanvoeling vir musiek. Ek en hy het onlangs begin werk aan sy single, Broken Society, en gaan dit begin opneem saam die producer Rudolph Willemse wat ook in Die Gevaar speel. Dit is die eerste keer in my lewe dat ek gaan co-write, co-produce en collab op 'n song, alles in een, so ek is nogal opgewonde daaroor.


Hoe het jy op die wen liedjie en kunstenaar besluit?

Francois: Basies is dit ek wat my favourite song gekies het, een wat die beste sou werk en waar ek die beste sou kan bydra. Daar was baie inskrywings wat cool was, ek dink net hier met Matt se liedjie kan ek die meeste bydrae en 'n cool song maak.


'n Laaste vraag. Ek hoor Ringo gaan in jou nuutste musiek video wees?

Francois: Hy gaan ja, Ringo is die groot ster van die video. Die plot van die storie is dat ek speel 'n rêrige down-en-out weergawe van myself. Ek bly ook in Belville maar in 'n klein hout huisie in 'n karavaan park. Al wat ek besit, is my kitaar en Ringo. Dan word my hond ontvoer vir 'n losprys en ek moet die geld probeer bymekaar maak. In die video dra ek 'n sweetpak broek, wat ek nooit doen nie, so dis klaar erg genoeg.